Sunday, February 27, 2011

"PENIS enlargement cream"

Ek is keelvol om die sag-op-die-tong woord PENIS om elke boom, lamppaal of vullisdrom te sien.  Penis is een van daai woorde wat presies klink soos wat dit lyk. Mot is ook vir my een van daai woorde. In elk geval, nie die ougatste woord om heeltyd aan vas te kyk nie. Die eerste keer wat ek bewus geraak het van hierdie PENIS cream advertensies was toe ek een hittige middag na klas besluit het om  die ou pamflet uitdeler by die verkeerslig se las vir hom minder te maak. Ek het so gelag vir Dr Tshabala se wonderroom en dat jy na 1 sessie 'n verskil sal waarneem. Ek het die bewoording en belaglikheid so komieklik gevind dat ek  elke keer 'n PENIS pamflet by die verkeerslig gevat het tot Isabel , die 8 jarige meisiekind wat ek aupair begin giggel het vir die pragtige woord PENIS wat op haar sitplek gele het.

Hierdie "miracle PENIS cream" het my brein weer ooraktief begin besig hou en ek het besef: Niemand is tevrede met hulself nie!Kyk, as my maerste vriendin kla oor haar selluliet op haar bobene dan wil ek kaalgat die berge inhol terwyl ek "Beautiful" van Christina Aguilera Yodel. Ek is moeg om in gesprekke te wees waar meisiekinders kla oor hulle gewig, bosserige bikini line, vet kuite en klein boobs. Ek weet ek kan net so lekker saanik en kerm maar vandag het ek besluit genoeg is genoeg!Kan ek myself herhaal? Genoeg is genoeg! Hoekom dink ons as ons net 5 Kg verloor sal ons gelukkiger wees? Hoekom voel meisies as hulle silikon in hulle borste pomp gaan hul beter oor hulself voel? As jy die IK van 'n paddastoel het dan gaan 'n D cup jou brein nie  interessanter maak nie.


Ek wil die Avatar look-a-like net 'n Big Mac voer, magies!
Ek het die naweek in hierdie Ek-moet-net-5Kg-verloor-dan-sal-ek-orite-wees slagyster getrap met my nommer 5 voetgrootte. Ek het gedink ek moet begin aandete mis dan sal ek verseker my doelwit tjop-tjop behaal toe maak die woord tjop-tjop my weer honger. Ek is lief vir kos. Ek hou daarvan om vir kos te kyk in tydskrifte, die reuk van vars WIT brood en om sommer vir my "Barbie instant cupcakes" te bak en al die inhoud daarbinne self op te eet. Ek sal nooit die lyf van Jessica Alba verower nie. Die afgelope tyd het ek besef dis nie net meisiekinders wat hierdie gewigs-issues het nie. As ek so na my kontaklys op Facebook kyk het elke 3de jan trap 'n kaalbolyf profiel prent waar hy met gekruisde arms staan sodat sy biceps groter vertoon. "Ruan fokcer is seer gegym, lekker spiere gepomp pappie" of "Susan venter VaN MoRe Af IS diT wEEr Droe TuNa en ReisKoEkies..My PerSoNal trAiner gaaN MeT my RaAs hehe mwah mwah" So verloop hierdie status updates elke dag. Dieselfde roetine van gym, dieet, gym, dieet, gym, dieet, gym..Kan mens werklik 100% gelukkig wees om jouself so te dryf na die perfekte lyf? Is dit regtig al wat saak maak in die lewe?

Daar staan erens in die Bybel dat ons na  God se beeld geskape is. Toe ek klein was het ek altyd gedink dit beteken dat elke persoon op aarde iets van God se liggaam het. Bv. Carel het Jesus se ore. Ek het Jesus se oe en Chene het Jesus se neus. Dit het my daai tyd ongelooflik spesiaal laat voel. Dat ek ietsie het wat soos Jesus lyk. Ek het vanaand besef ek gaan hierdie bybelversie weer deur my 8 jarige grysblou oe sien. My linker boob is bietjie groter as die ander een, ek dra 'n nommer 34 broek maar die knoop druk my nog so effens. My neus is bietjie skeef en soos corne se; my arms lyk soos zinzi s'n van 7de Laan. Ek kry ongelooflik skaam om in 'n bikini te verskyn op die strand en ek hou nie daarvan as daar foto's van my geneem word waar ek uit my maag lag nie want dit lyk altyd of ek 'n dubbelken het. Vir die meisiekinders wat 'n standpunt wil inneem teen "fat days" se nou die volgende woorde saam my hardop terwyl jy 'n stukkie vet tussen jou vingers vasknyp.  Maak nie saak of jou kat jou snaaks aankyk of jou ma bekommerd haar kop by jou deurkosyn insteek nie.."Elke keer as ek 'n PENIS enlargement advertensie sien sal dit my dankbaar maak dat ek nie 'n penis het nie en dat ek trots is op my vroulike kurwes".

Monday, February 14, 2011

Val-ini-tuin dag.

Val-ini-tuin-dag
Ai die rooidag het aangebreek. Rooi harte, Rooi onderbroeke en vir die meer gewaagde manne; rooi deurtrekkers. Skoolkinders met rooi t-hemde of as jy nie ietsie rooi in jou kas het nie mag jy ‘n wit t-hemp aantrek met ‘n iets rooi in jou hare soos die omsendbriewe altyd gese het. “Age nee tannie Marleen, ek het regtig gedink jy gaan vir ons ‘n  geskenkie bring. Hoekom het jy nie iets gebring nie?” Vra een van die 6 jarige tweeling meisiekind wat ek au pair. “Hoekom het jy vandag bruin aan tannie? Het jy nie iets rooi om aan te trek vir “hartjie dag” nie? Vra die ander een. “ai ek het nie eers ‘n chocolate by ‘n outjie vandag gekry nie. Ek het regtig gedink Andre Meyer gaan my vra om sy Valentyn te wees maar hy het nie. Ek wil eintlik nie alleen met hom praat nie” se die oudste een van die 3 sussies. Isabel is nou 9 jaar oud. Sy het nou “uitgaan” ontdek. Nee nie meer Kys soos die oumense (ek) dit altyd genoem het nie. Dit is nou uit. Hulle gaan nou uit en koop vir mekaar Snoepie, kyk en waai vir mekaar. Isabel het vir so week met Andre Meyer uitgegaan. “Hy hoef regtig nie vir my Snoepie te koop nie tannie. Ek kry baie skaam as hy dit doen” het sy al die 2de dag van die “kys” gekla en gekerm. Sy was heeltemal ontsteld gewees die dag wat hy haar uitgevra het. Gewoonlik het sy my ore van my kop afgepraat in die motorrit van die skool af huis toe. Ek het maar die radio afgeskakel en my ore vir haar gegee op ‘n silver skinkbord.  Elkgeval sy was in ‘n dilemma. Dag 4 het aangebreek. “Ek gaan hom los tannie, maar ek weet gladnie hoe nie. Se nou maar ek “break” sy “heart” in stukkies? Se nou maar hy praat nooit meer met my nie? Ek dink ek moet hom eers beter leer ken, oh en het ek al genoem ek hou nie daarvan as hy vir my snoepie koop nie?”
 Sy het my raad gevolg. Vir Andre Meyer ‘n slab chocolate gekoop en opgebreek met die classic “Ek wil net vriende wees” Nee tannie Marleen het nie daai line vir haar geleer nie, sy het dit self ontdek. Ek was die eerste paar sekondes trots na ek dit  gehoor het en toe bekommerd want ek het geweet baie laities gaan onder daai woorde moet swig. Vandag, op die “hartjie dag” is Isabel  bietjie omgekrap oor sy nie ‘n chocolate by ou Andre Meyer gekry het nie. Ai, die vroulike spesie is ‘n ander ding. Isabel  hou dan nie daarvan as hy vir haar snoepie gekoop het nie, maar nou dat dit valentynsdag is. My magies, nou moet hy moes uithaal en wys? Geen wonder die manne van vandag verstaan nie ons pms belaaide vroumense nie. Soos ek al genoem het….ons is regte verkleurmannetjies op smartieboksies. En nee nie onlangse kleursel vrye smarties nie. Alles kom neer op die volgende: Valenteinsdag is gelyk aan  sky high verwagtings.

G’n wonder die kleur van die dag is rooi nie. Meisiekinders sien net rooi as niks verloop soos hulle van gedragdroom het al ‘n maand voor die tyd nie. Tragies, ek se Jou. Almal wag vir hulle Edward om hulle te kom red uit die onoorspronklike lewenswyse en alledaagse bestaan. Daarom bookmark meisiekinders die 14de Februarie al weke voor die tyd en as die dag aanbreek gaan slaap hulle maar en hoop maar op volgende jaar se rooi dag.
Ek noem die wereldbekende dag Val-ini-tuin dag. Sommer maar net, kon nog nie aan ‘n kreatiewe rede gekom het vir die benoeming nie. Klink net koel. Ek het my heeleerste Val-ini-tuin geskenk by Tian De Lange gekry. Heel toevallig was ek ook Isabel  se ouderdom. Graad 4. Tian was my heel eerste Kys gewees. Hy het my elmboe lam gemaak met sy potblou oe en stoute streke in die klaskamer. Ek het heel opgewonde by die huis aangekom met ‘n dolfyn asbakkie. Ja dit was my heeleerste Val-ini-tuin geskenk.  Ek weet nie waar het ou Tian die geskenk gaan uitgrawwe nie maar ek was mal daaroor. 'n Glas asbak met dolfyne op. Ek lag nou so lekker oor ek die brokkie inligting kan onthou HAHA. Hy het ook vir my ‘n week daarna verras met ‘n dolfyn telefoonboekie. Kyk, ek het nie geweet ek hou van dolfyne tot ek en Tian begin kys het nie. Ek het nog net een geheime bewonderraar gehad en dit was toe ek in Graad 6 was. Hy het vir my ‘n vuilerige pienk poedel soft toy gegee. Ek was bitter ontsteld toe ek uitvind wie dit was. Bert Venter, maar ek dink ek was meer ontsteld oor die simpel pienk brak net een oog gehad het.


Vanoggend wonder ek so bietjie of my kerel vir my ietsie gaan gee op hierdie “hartjie” dag. Vandag was ‘n tipiese blou maandag. Rond gekarwei en klas gehol. My eerste dag van my laaste akademiese loopbaan. Wel, sover is dit. My kerel klop so teen 20:30  se kant aan ons skuifdeur in ‘n larney pak klere.  Hy oorhandig vir my ‘n egte diamant ring met oorbelle wat daarby pas. Die tuin staan vol bloedrooi rose en ‘n oorgewig italianer wat ‘n lied op die kitaar serenade dat die sweet tot op sy goue ketting drup wat wegkruip tussen sy borshare. Nee, dit is nou nie wat regtig gebeur het nie en ek weet nie of iemand die as ideaal beskou nie. Nee, my kerel het aan die skuifdeur geklop,wel nagesweet ja, in sy rugby oefen klere met  ‘n pakkie TnT butter flavoured springmielies, ‘n pakkie Astros en ‘n sjokolade Sterie Stumpie. Al my gunsteling lekkernye.  My maag pyn nou so bietjie na ek my lekkernye sommer op eenslag verslint het maar my hart is so gelukkig soos ‘n bediende op payday. Ek het weer so vuurwarm gevoel in my hart gekry soos wat ek gekry het met my dolfyn asbak. Terwyl ek so heel knoesig  my kop op my kerel se skouer gerus het het ek besef hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het.

 

Saturday, February 12, 2011

Ballade.

1995.  Eistodfod in die skoolsaal. Het spesiaal linte gekoop vir my hare en my skoolskoene was blink gepolish. Ek het bewerig voorentoe gestap, trappie vir trappie tot ek op die klavierstoeltjie gaan sit het. Myself heewat nader aan die klavier se pedale gestoot aangesien ek nog bietjie te klein was vir die groot instrument. Ek het Ballade for adeliene deur Richard clayderman gespeel. Goed, die solo instrumentale spel was op ‘n einde en die duet afdeling het afgeskop.  Ek en my moeder was heel eerste op die program. Stap heel selfvoldaan verhoog toe omdat my ma langs my sy is. Ons speel ‘n eenvoudige duet en toe ons die laaste noot tokkel, buig en by die verhoogtrappies afstap sal my ma se linkervoet besluit om vas te hak en daar ski my ma op die skoolsaal se teels soos ‘n gelukkige pikkewyn in Alaska. Doodsbekommerd help ek haar op en daar begin die gehoor te skater van die lag. Ek het my 6 jarige fronsie opgesit, my kop vir die gehoor geskud en my ma gesmeek dat ons maar net kan ry want ek was vreeslik ontsteld dat hulle nou vir my moeder lag.  Mense mag nie vir die beste moeder in die wereld lag nie.
Ek gaan fliek saam my ma. Die fliek het skaars begin en soos oumense se blasé maar te vinnig oorvol word moet haar blaas haar badkamer toe jaag. Gelukkig sit ons redelik aan die kant anders moet sy met haar lomp voete verby al die mense skuif, springmielie bokse omvoeter en die gehoor steur.  Wat al so baie gebeur het. Sy kom uiteindelik by die trappe uit en daar besluit haar linkervoet alweer om vas te hak en daar  verloor sy haar balans. Ka-doeffff op die trappe. Die jong tiener meisies voor my begin te giggel, ek giggel half gedwing saam en skuif alhoemeer af in die fliek se sitplek.
Moral of the story? Lag maar vandat jy klein is vir jou ouers want hulle word eventually irriterend soos ‘n ou stukkie springmielie dop tussen jou tande. Genade, het ek nou sleg gevoel oor ek my geskaam het vir haar  getrippery. Daar in die donker fliek teater was ek weer die opgewonde bokstertjie meisiekind in 1995. Daai dag was eweskielik so helder in my gedagtes ek kon die klavierklawwers se tekstuur weer van voor af onthou. Vrae het in my kop gedopper. Hoekom kyk ek nie meer op na my ma nie? Hoekom is sy nie meer die enigste persoon op die heelaal vir wie ek “ontelbaar” lief is nie? Ek onthou ek het altyd vir my ma gese ek is 100% lief vir haar maar net 98.8% lief vir my pa. HAHA! Wat ‘n ego booster moes dit nie vir haar gewees het nie!Ek weet dit is nogals onmenslik om hierdie volgende stelling van enige iemand van my ouderdom te verwag maar hoekom kan ons nie meer ons ouers deur dieselfde kinderlike oe sien as wat ons hul gesien het toe ons klein piekenienies was nie? Weer in hulle te glo soos wat kinders in Liewe Jesus glo? Met oorgawe, geen twyfel en oormatige hoop? Net om aan die uitdaging te dink laat my alklaar handoek, waslappe en tou opgooi. Ek het besef dat my ma nie verander het nie maar ek.  Ek is nou ouer en “wyser”. Ek is streetwise my bra. Ek ken mos nou al die Ins and outs van die lewe.  My ma is al amper 60. Ptttf. Wat is 60 as jy amper 23 is? Wat meer kan sy weet?.... Ek mag dalk 98.8% streetwise wees maar my liewe moeder het 100% meer wysheid as ek.
Ek het nogals lanklaas net vir die pret voor die klavier gaan sit en gespeel wat my hart wou hoor.  Ek het op die klavierstoel gaan sit, gegaap en my vingers het heel spontaan Ballade for Adeliene begin speel. Nostalgie het uit my grysblou oe begin stroom. 2011. sitkamer, met ongekamde hare sonder linte en kaalvoet het ek weer opnuut besef ek is waar ek is as gevolg van my lomp linkervoet moeder.

Thursday, February 10, 2011

ouma se kind.

“Ek het in my kinderjare vasgeglo in kersfeesvader, in werklikheid ry hy mos met ‘n slee”. Ja Laurika, ek het ook. Kersfeestyd was die tyd van die jaar waarna ek die meeste uitgesien het. Nee, dit was nie die lekker feesmaal of geskenke wat my opgewonde gemaak het nie. Dit was die hoop om Kersvader in lewende lywwe waar te neem. Ek het oukersaand saggies uit die gastekamer van my ouma se groot huis uitgeslyp en by die stoep se groot venster in my pienk prinses nagrokkie gewag en gestaar na die maan. Ek het myself verbeel kersvader vlieg met sy slee verby die maan. Ek het geweet dit is my verbeelding maar het daai aand in die bed geklim en myself probeer oortuig dis waar totdat ek aan die slaap geraak het.

Vandag woon my ouma nie meer in ‘n pragtige groot huis nie maar in ‘n klein vertrekkie in die ouetehuis. Sy weet nie meer wat is haar naam,van of haar ouderdom nie. Sy noem my ma “tannie” , gesels met ‘n groot plastiese pop en haar gunsteling kleindogter  is ‘n vreemdeling vir haar. Sy het 4 tande, naels wat nie meer gecutex is nie en geen glimlag nie. Al haar “furr” jasse en “designer” hofskoene vergader stof in my ma se kas. Haar Lazy boy stoel waarop ons kleinkinders nooit op mag gesit het nie staan in ons sitkamer waarop ek nou met kruisbene sit.  Sy kan nie meer lekker boontjies of frikadelle vir my maak nie. Sy kan nie meer haar mooi diamant trouring vir my afhaal sodat ek kan kyk hoe lyk dit aan my vinger nie. Sy kan nie meer vir my poppe rokkies maak en my help om te tolletjie brei nie.

Ai Ouma, ek is so jammer ek het my neus opgetrek vir jou gebreide pienk uitrustings wat jy vir my gebrei het. Jammer ek het nie meer briefies vir jou geskryf  hoe ouer ek geword het nie. Jammer ek was stilletjies geirriteerd gewees as ek my kamer vir jou moes opgee as jy kom kuier het.  ouma, ek besef vanaand, 24 Desember 2010, die rede hoekom ek nie meer die krismis spirit in my hart voel nie is oor ek dit nie meer saam met jou kan deel nie. Ek mis dit om 6H00 in die oggende wakker gemaak te word met Radio Kansel se deuntjies en die reuk van jou feesmaal op Kersoggend. Vir almal wat Kersdag saam hulle grootouers gaan spandeer wees dankbaar en geniet elke sekonde saam hulle want sekondes mag dalk eendag al wees wat hulle sal kan onthou.

In 2005, toe die Altzheimer nog aan die begin stadium was het sy in die “Geel” gang gebly. Dis die gang vir die oumensies wat gesond en nog “op en wakker” is.  Sy het my eenkeer terug geroep net toe ek by haar kamerdeur uitgeloop het en vir my gese  “Sussie, ek sal jou nooit vergeet nie, ek belowe”.