Saturday, February 12, 2011

Ballade.

1995.  Eistodfod in die skoolsaal. Het spesiaal linte gekoop vir my hare en my skoolskoene was blink gepolish. Ek het bewerig voorentoe gestap, trappie vir trappie tot ek op die klavierstoeltjie gaan sit het. Myself heewat nader aan die klavier se pedale gestoot aangesien ek nog bietjie te klein was vir die groot instrument. Ek het Ballade for adeliene deur Richard clayderman gespeel. Goed, die solo instrumentale spel was op ‘n einde en die duet afdeling het afgeskop.  Ek en my moeder was heel eerste op die program. Stap heel selfvoldaan verhoog toe omdat my ma langs my sy is. Ons speel ‘n eenvoudige duet en toe ons die laaste noot tokkel, buig en by die verhoogtrappies afstap sal my ma se linkervoet besluit om vas te hak en daar ski my ma op die skoolsaal se teels soos ‘n gelukkige pikkewyn in Alaska. Doodsbekommerd help ek haar op en daar begin die gehoor te skater van die lag. Ek het my 6 jarige fronsie opgesit, my kop vir die gehoor geskud en my ma gesmeek dat ons maar net kan ry want ek was vreeslik ontsteld dat hulle nou vir my moeder lag.  Mense mag nie vir die beste moeder in die wereld lag nie.
Ek gaan fliek saam my ma. Die fliek het skaars begin en soos oumense se blas√© maar te vinnig oorvol word moet haar blaas haar badkamer toe jaag. Gelukkig sit ons redelik aan die kant anders moet sy met haar lomp voete verby al die mense skuif, springmielie bokse omvoeter en die gehoor steur.  Wat al so baie gebeur het. Sy kom uiteindelik by die trappe uit en daar besluit haar linkervoet alweer om vas te hak en daar  verloor sy haar balans. Ka-doeffff op die trappe. Die jong tiener meisies voor my begin te giggel, ek giggel half gedwing saam en skuif alhoemeer af in die fliek se sitplek.
Moral of the story? Lag maar vandat jy klein is vir jou ouers want hulle word eventually irriterend soos ‘n ou stukkie springmielie dop tussen jou tande. Genade, het ek nou sleg gevoel oor ek my geskaam het vir haar  getrippery. Daar in die donker fliek teater was ek weer die opgewonde bokstertjie meisiekind in 1995. Daai dag was eweskielik so helder in my gedagtes ek kon die klavierklawwers se tekstuur weer van voor af onthou. Vrae het in my kop gedopper. Hoekom kyk ek nie meer op na my ma nie? Hoekom is sy nie meer die enigste persoon op die heelaal vir wie ek “ontelbaar” lief is nie? Ek onthou ek het altyd vir my ma gese ek is 100% lief vir haar maar net 98.8% lief vir my pa. HAHA! Wat ‘n ego booster moes dit nie vir haar gewees het nie!Ek weet dit is nogals onmenslik om hierdie volgende stelling van enige iemand van my ouderdom te verwag maar hoekom kan ons nie meer ons ouers deur dieselfde kinderlike oe sien as wat ons hul gesien het toe ons klein piekenienies was nie? Weer in hulle te glo soos wat kinders in Liewe Jesus glo? Met oorgawe, geen twyfel en oormatige hoop? Net om aan die uitdaging te dink laat my alklaar handoek, waslappe en tou opgooi. Ek het besef dat my ma nie verander het nie maar ek.  Ek is nou ouer en “wyser”. Ek is streetwise my bra. Ek ken mos nou al die Ins and outs van die lewe.  My ma is al amper 60. Ptttf. Wat is 60 as jy amper 23 is? Wat meer kan sy weet?.... Ek mag dalk 98.8% streetwise wees maar my liewe moeder het 100% meer wysheid as ek.
Ek het nogals lanklaas net vir die pret voor die klavier gaan sit en gespeel wat my hart wou hoor.  Ek het op die klavierstoel gaan sit, gegaap en my vingers het heel spontaan Ballade for Adeliene begin speel. Nostalgie het uit my grysblou oe begin stroom. 2011. sitkamer, met ongekamde hare sonder linte en kaalvoet het ek weer opnuut besef ek is waar ek is as gevolg van my lomp linkervoet moeder.

1 comment:

  1. pretty ne! jy laat altyd die nostalgie na my toe terugkom as jy skryf, nes daai aand met jou oumsie

    ReplyDelete