Thursday, February 10, 2011

ouma se kind.

“Ek het in my kinderjare vasgeglo in kersfeesvader, in werklikheid ry hy mos met ‘n slee”. Ja Laurika, ek het ook. Kersfeestyd was die tyd van die jaar waarna ek die meeste uitgesien het. Nee, dit was nie die lekker feesmaal of geskenke wat my opgewonde gemaak het nie. Dit was die hoop om Kersvader in lewende lywwe waar te neem. Ek het oukersaand saggies uit die gastekamer van my ouma se groot huis uitgeslyp en by die stoep se groot venster in my pienk prinses nagrokkie gewag en gestaar na die maan. Ek het myself verbeel kersvader vlieg met sy slee verby die maan. Ek het geweet dit is my verbeelding maar het daai aand in die bed geklim en myself probeer oortuig dis waar totdat ek aan die slaap geraak het.

Vandag woon my ouma nie meer in ‘n pragtige groot huis nie maar in ‘n klein vertrekkie in die ouetehuis. Sy weet nie meer wat is haar naam,van of haar ouderdom nie. Sy noem my ma “tannie” , gesels met ‘n groot plastiese pop en haar gunsteling kleindogter  is ‘n vreemdeling vir haar. Sy het 4 tande, naels wat nie meer gecutex is nie en geen glimlag nie. Al haar “furr” jasse en “designer” hofskoene vergader stof in my ma se kas. Haar Lazy boy stoel waarop ons kleinkinders nooit op mag gesit het nie staan in ons sitkamer waarop ek nou met kruisbene sit.  Sy kan nie meer lekker boontjies of frikadelle vir my maak nie. Sy kan nie meer haar mooi diamant trouring vir my afhaal sodat ek kan kyk hoe lyk dit aan my vinger nie. Sy kan nie meer vir my poppe rokkies maak en my help om te tolletjie brei nie.

Ai Ouma, ek is so jammer ek het my neus opgetrek vir jou gebreide pienk uitrustings wat jy vir my gebrei het. Jammer ek het nie meer briefies vir jou geskryf  hoe ouer ek geword het nie. Jammer ek was stilletjies geirriteerd gewees as ek my kamer vir jou moes opgee as jy kom kuier het.  ouma, ek besef vanaand, 24 Desember 2010, die rede hoekom ek nie meer die krismis spirit in my hart voel nie is oor ek dit nie meer saam met jou kan deel nie. Ek mis dit om 6H00 in die oggende wakker gemaak te word met Radio Kansel se deuntjies en die reuk van jou feesmaal op Kersoggend. Vir almal wat Kersdag saam hulle grootouers gaan spandeer wees dankbaar en geniet elke sekonde saam hulle want sekondes mag dalk eendag al wees wat hulle sal kan onthou.

In 2005, toe die Altzheimer nog aan die begin stadium was het sy in die “Geel” gang gebly. Dis die gang vir die oumensies wat gesond en nog “op en wakker” is.  Sy het my eenkeer terug geroep net toe ek by haar kamerdeur uitgeloop het en vir my gese  “Sussie, ek sal jou nooit vergeet nie, ek belowe”.

No comments:

Post a Comment