Wednesday, June 1, 2011

Ps 84 vers 4

Hoekom kry sommige ouers kinders? Dit is 'n aanhaling wat al meer as duisend keer deur my kop gegaan het. Ek verstom my hoe kinders optree en ek besef elke dag alhoemeer dat hulle optredes gekoppel is aan die manier hoe hulle ouers hulle grootmaak. "Probleem kind, probleem ouer". In die afgelope 7 weke het my mond oop gehang oor die woorde wat uit kinders se monde wals. Ek het dae wat my hart so groot is soos die blinde puisie op my neus en dan wals daai kleingoed se woorde reg in my siel in. Die wals het nog nie sy 1-2-3 ritme voltooi nie en dan sit daar 'n ongemaklike knop in my keel wat soos 'n opgooi nabrand voel.

Isabella is 'n klein innoverende gedroggie. Sy lewe nie regtig in 'n wereld van haar eie nie want 'n wereld van haar eie sal nie eers kan afwyk van realiteit nie. Die kind se gedrag is net verstommend. Ek dink sy is al moeg vir "Wat is daai goed langs jou kop huh? Ek is seker dit is nie ore nie". Sy voel net 'n vet freakin veer. Vir Graad 1 het sy darem maar 'n wil van haar eie en eers as sy in tranne uitbars besef ek sy is maar net 7 jaar oud. Die eerste dag wat ek haar waargeneem het het iets my begin pla. My hart was so onrustig gewees en nie oor sy nie 'n woord hoor wat mens vir haar se nie maar oor daar 'n ongelooflik volwasse hartseer uitdrukking in haar oe is. Mens kan sien haar glimlag verbloem al die ellende wat sy al moes deurmaak. Terwyl haar Juf haar ma bel na skool sit sy by my en huil. "Juf weet, as julle my pa wil bel kan julle nie want hy is dood. Net toe ek gebore is ne....so het juf vir my 'n sweetie...want ek is hartseer". Nadat haar ma weer getrou het na haar pa se dood het Isabella se nuwe pappa dood verongeluk. Toe trou haar ma weer, verseker sonder om die man  hart en siel te ken want die man wat sy liefde aan haar beloof het is 'n skietsovreen. Arme Isabella. Geen standvastigheid nie. Dit wil voorkom asof sy al vandat sy in haar ma se baarmoeder was al moed opgegee het.

Lamont. Wat is indrukwekkende naam vir 'n 7 jarige en verseker 'n naam wat die hele skool omtrent ken. Sy naam loop hom verseker vooruit. Hy is die Lady Gaga van die laerskool. Ek was altyd so opgewonde as sy klas musiek toe kom want hy is so entoesiasties as hy sy kaalvoete by die deur insit. Probeer gretig al my vrae beantwoord en is vreeslik behulpsaam. Pouses het kinders met skete en pyne die kantoor binne gestroom en as die juf vra wat gebeur het het hul net een naam genoem "Lamont". Dan skud die juf haar kop, sug en gaan soek die 7 jarige boelie. Vandag het ek hom in aksie beleef. Skop hy 'n gummie bear look-a-like laaitie dat hy doer trek. Ek het hom aangespreek maar dit was asof 'n demoon in sy piepklein liggaam in gevlieg het. Hoe meer ek hom probeer keer hoe meer slaan hy enige persoon wat in sy sig kom. Self vir my. Hy druk toe vir gummie bear teen die muur, skeer al sy knope van die skoolhemp af en verwurg die arme kind dat ek hom nie eers kan keer nie. My hel. Ek se jou, dit was 'n tragiese affere. Lamont se ma is 'n onderwyser by die skool. Sy het hom daar kom aanspreek, of altans op hom gegil soos 'n maer vark. "Ek gaan jou vandag dokter toe vat dat die dokter jou ore kan toets want jy luister nie". Ek dink die dokter moet mamma se mond toets want al wat jy kan doen is skree" kap hy terug. Sy ma het haar gat gewip en weggeloop en hy het daar in miljoene tranne uitgebars. "Sy skree net op my, dis al wat sy doen. Sy skree en skree en skree". Sy ma en pa het die jaar geskei en dis glo die rede vir sy optrede. Ek is honderd persent seker daarvan dat daar meer agter geslote deure aangaan.

Downsindroom kinders is dalk "Jesus se engeltjies" maar verseker nie 'n juf sn nie. Ek moes al paar keer vir Zander oppas. En kyk, dit is 'n opdrag wat jou geduld toets sodat jy kort kort 'n hertoets ook moet skryf en dan weer druip en dan weer her. Hy het diep in my hart gekruip die eeste dag wat ek vir hom gekyk het. Sy gunsteling tydsverdryf is om die pad te vat en dan moet jy maar jou laerskool atletiek drome herleef en hom probeer vang. Vir so lekker ronde lyfie kan hy flippen vinnig in sy spore trap. Dan sal hy nog om kyk en 'n komieklike "HAAAHAAHAA" uiter en vinniger hardloop. Zander geniet nie skool so baie nie. Hy wil nie op sy stoeltjie sit nie en wil net "Tom&Jerry" kyk. Hy kry gewoonlik elke dag sy sin en kyk dan Tom&Jerry in die media sentrum. Sy ma was vreeslik ontsteld oor hy "Tom&Jerry" kyk want dit maak hom "te opgewonde". Dis al wanneer die engelkind regtig lekker lag. Mens kan met hom toor maar nee dis nie goed as hy te opgewonde raak nie. Sit hom in 'n skool waar al sy maatjies dieselfde is en hy meer stimulering op sy vlak kry. Ek is seker hy sal nie dan die pad vat nie. Of nee wag dit beteken hy gaan dan "Te opgewonde" wees.

Na 'n lang rowwe dag van hartseer kinders kry ek my aupair maatjies en gaan huis toe. Mieke sien toe 'n vet dooie duif op die grasperk en ek weet toe hier kom moeilikheid en baie verduideliking. Kyk, ek het nog nie 'n 6 jarige ontmoet wat so passievol is oor diere nie. Sy het al  'n vreesaanjaende moviese slang op haar skouers gehad, aan harige spinnekoppe gevat en miere se lewens probeer red. Sy wil 'n "dieredokter" word so toe ek my handsak in hulle huis gaan neer sit en opdraai het Mieke die mierbelaaide vet dooie voel alreeds in haar 2 handjies gehad. Ek wou nog se sy moet hom neersit maar ekt geweet sy gaan hom probeer red. Die ding was stokstyf so ek het stilletjies in my mou gelag. Dr Mieke het besluit ons moet dooie duifie begrawwe. Nadat sy haar barbie se barbeque spaan gebruik het om die gat te grawwe het haar tweeling sussie Cayla die kinderbybel gaan haal en ousus Sabelle was die dominee. Cayla en Mieke was in tranne want die dooie duif is dalk 'n mamma of dalk 'n kind en ai dit was so hartseer ek het weereens met 'n opgooi nabrand knop in my keel gestaan en troos.  Cayla het 'n stukkie kamma uit die kinderbybel gelees en toe lees ousus Sabelle waar sy die bybel oopmaak. En daar staan ons 4 in die koue om die oopbek stywwe duif se graf en Mieke vra nog of die duif al in die hemel is toe lees Sabelle heel "toevallig" die volgende versie "Self 'n mossie het 'n nes en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies daar by U woning, Here almagtige Koning en God!"

Die kleingoed is nog te klein om te besef  dat die versie so gepas was vir die geleentheid maar  Jesus se lig het my hart vuurwarm geskyn met die wete dat Hy elke klein hartseer snotneusie in sy almagtige hand palm bewaar.

1 comment:

  1. Ek sit alweer snot en trane en lees jou Blog. Ek dink nie jy hoef meer te twyfel of jy in die regte roeping is nie my ou stinkvoet! Dis beaula!

    ReplyDelete